KULTUUR | CULTURE
Redenaars
Spreekkoor
‘n Spreekkoor is ‘n groep kinders wat ‘n gedig of dramatiese teks oordra. ‘n Koor wat nie saam sing nie, maar eerder saam praat. Soos in ‘n gewone koor, sal daar gedeeltes wees waar die hele koor saam praat, maar daar kan ook solo-gedeeltes wees, of dele waar slegs ‘n aantal stemme optree.
Spreekkoor is ‘n platform vir talentontwikkeling ter viering van en opbou van laerskoolkinders, deur toneelontwikkeling, gehoorontwikkeling en blootstelling aan goeie literatuur aan te moedig. Deur die opbouende proses van spreekkore, ontwikkel die kinders selfvertroue, selfkennis, kommunikasie- en luistervaardighede en verbreed hul woordeskat. Kom leef jou liefde vir spreekkoor uit en betower gehore met jou talente hier by Fochies.
Mosterdsaadjies
Ons Mosterdsaadjies Bybelklas is ‘n lekker en geseënde buitemuurs waar ons Laerskool Fochville se Christelike grondslag in kinderhartjies koester en bevorder. Ons het al gegroei in geloof net soos saadjies en is al 150 maats wat weekliks bymekaar kom gedurende kwartaal 1 en 2. Ons maatjies leer deur lesse en stories om tussen reg en verkeerd te onderskei. Maatjies leer ook om vir mekaar te bid, saam te “worship” en ‘n mooi voorbeeld in gedrag te stel wat ander na Jesus lei.
Met ons graad 1 opedae wys ons stalletjie dat ons skool Jesus dien. Ons hou jaarlikse uitreike waar ons projekte loots om vrywillige donasies of skenkings vir mense of diere in nood in te samel om ons maats te leer om ander te help en te seën, bv. die SAVF Dienssentrum van bejaardes, DBV waarby ons reeds in 2024 hulle eerste “Voice for the Voiceless” hemp as toekenning van dankbaarheid ontvang het, die Ubuntu huis van veiligheid wat kinders, bejaardes en siekes sonder heenkome help, voed en versorg. Ons probeer ons gemeenskap te help met hart en hand deur goeie dade om sodoende ons kinders te leer om vir ander tot diens te wees.
Ons Bidboksie is daar vir gebedsversoeke of getuienisse. Leerders kan anoniem of as die hulle hulp of leiding in ‘n situasie benodig, is hulle welkom om hulle name by te sit dat ons dit kan opvolg en hulle bystaan. Ons Mosterdsaadjies probeer ook om ons eie personeel spesiaal te laat voel dat hulle waardeer word met ietsie bemoedigend en motiverend te gee om ons te herinner dat elke kind ‘n gawe is wat aan ons toevertrou word in ons ere-beroep as Onderwysers.
Ons getroue bywoning leerders ontvang spesiale knopies wat hulle deel en trots laat voel en laat uitstaan as deel van die Mosterdsaadjies. Hulle ontvang ook deelname by die prysuitdeling as hulle meer as 80% getroue bywoning gehad het. Ons personeel betrokke dra ons YHWH-hempies met die woorde: “Every breath speaks His Name”, want ons wil graag die Here in ons skool verteenwoordig!! Ons gebruik ons geallokeerde fondse om materiaal vir ons lesse aan te koop, om iets lekkers met ons afsluiting te doen, om Bybels aan te koop, of om behoeftiges te help. Weekliks word ons byeenkoms se verrigtinge op Facebook geplaas en ontvang ons goeie en positiewe terugvoer en ondersteuning.
Dis vir ons ‘n eer en voorreg om met elke leerder ‘n pad te kan stap in die Naam van die Here. Mag die Here ons skool se Hoof, Bestuurspan, Beheerliggaam, Onderwysers, Ouers en meestal ons pragtige leerders ryklik seën.
Mosterdsaadjie-personeel:
Juffrouens: Marilise Berry (Organiseerder), Dalene Habig, Amanda Swart, Marolien Dietrichsen, Daleen Reicherdt, Zeldine Pretorius
Senior Skaak
“Choose your move carefully, in chess as in life.” – Anonymous
Geduld word beproef in uitspeel-rondtes waar leerders mekaar probeer uitoorlê. Ongeveer 80 maats neem jaarliks deel aan die senior skaak van graad 4 tot 7. Uitspele word gehou waar die reëls en beter tegnieke ingeoefen word. Hierdie sport leer leerders respek en om die nagevolge van hulle besluite te hanteer wat probleem-oplossingsvaardighede ontwikkel. Semi-finale en finale word dan regverdig bepaal deur die aantal uitspele wat gewen is. Goeie sportmangees word aangemoedig en leerders geniet dit baie! Ons hou ook altyd ‘n lekker afsluiting om die liefde vir die sport te behou. Getroue bywoning van 80% word ook met die prysuitdeling as deelname beloon.
Juffrou Marilise Berry graad 6 & 7 (Organiseerder)
Juffrou Amanda Swart graad 4 & 5
Kunsfees
Die leerders is altyd opgewonde oor die Kunsfees.
Die koor is hard aan die oefen regdeur die jaar en ons spreekkoor kom wys ook watter talentvolle akteurs in ons midde lê.
Die leerders kan vir verskillende kategorieë inskryf en hulle talente kom uitstraal.
Van gediggies voordra en toneelspel tot die lees van voorbereide en onvoorbereide leesstukke.
Tydens die Kunsfees kan leerders ook hulle kreatiewe kant kom wys deur verf, prentemaak, fotografie, flyte, groetekaartjies en selfs naaldwerk.
Hierdie is een van ons hoogtepunte op die skool se kalender.


















